Partners

www.incenturion.co.za
www.insoweto.co.za
www.netcar.co.za

webstats

Facebook


South African Business
Community Web Index

www.inon.co.za

Copyright (c) 2011 inon.co.za cc, Postal address PO Box 80337, Doornpoort, Pretoria, 0017.
All rights herein are strictly reserved. If you use this web site you agree to the terms and conditions contained in this user agreement

record
slogan

November 2011


Man betrap wat onwettig adverteer
- Ané Roux

’n Man, wat onwelvoeglike advertensies oor aborsies en liggaamsdeelvergrotings op lamppale en kragbokse plak, is verlede week op heterdaad betrap.

Heinz Brits en Johan Moller van die Silverton Besigheidsreaksie Eenheid (SBRE) het die onbekende Ugandese man betrap met sy advertensies en gom terwyl hy besig was om die advertensies op te plak.
“Ek het die man gesien waar hy besig was met sy plakkers. Ek het ook ’n foto van hom met my selfoon geneem om as bewysstuk voor te lê,” het Moller aan Rekord gesê. 
Hy het bygevoeg dat die SBRE onwettige advertensies as ’n seeroog sien en beskou dit as ’n prioriteitsmisdaad. 
“Ons het goeie regulasies in die Tshwane-metro en as inwoners van Silverton wil ons in ’n netjiese omgewing woon. Die metro se regulasies verseker dat onregmatige advertering nie toelaatbaar is nie. Daarom het ons nie gehuiwer om die oortreder aan te tree toe ons hom betrap nie.”
Frustrasie en teleurstelling is egter al wat van die saak gekom het. 
Die metropolisie het glo drie ure geneem om die verdagte in hegtenis te neem en het hom later laat gaan met ’n boete van R500.
Ben Chapman, wyk se raadslid, het die aksie van die metropolisie bevraagteken. 
“Die metropolisie het ons vir drie ure laat wag nadat ons hulle laat weet het dat inwoners ’n man wat skuldig is aan die beskadiging van raadseiendom en onwettige buitelugadvertering, betrap is. Die man beskik oor geen vorm van identifikasie of adres nie, en tog dink die metrolede dat ’n boete van R500 die oplossing is. Duidelik is die man skuldig, tog beskou die metro die saak as afgehandel. Wat moet die gemeenskap meer doen om die metro by te staan om ons stad se munisipale regulasies toe te pas?”
Chapman het verder ook gesê dat mense wat enige regulasies, veral onreëlmatige buitelugadvertensies in Silverton wil aanbring, strawwe weerstand van die gemeenskap sal ervaar. 
“Ons as gemeenskap sal die saak nie hier laat nie.”
Alta Fourie, woordvoerder van die metropolisie, het gesê: “Die Strafproseswet is baie duidelik en die metropolisielede het die voorgeskrewe riglyne toegepas toe die man vrygelaat is met ’n boete. Die metropolisie kan mense nie vir enige oortreding aanhou nie. Die boete is nou uitgeskryf en die oortreder sal die geleentheid kry om sy saak in die hof te beveg indien hy nie die R500 betaal nie. Sou die oortreder nie een van die twee keuses uitoefen nie, sal daar ’n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik word.” 
Sy het bygevoeg dat die wet sy gang sal gaan en dat ongeregistreerde buitelug adverteerders vervolg sal word.
“Ons is bly dat vredesbeamptes flink reageer en oortreders vasvat. Die metro het die hulp van die gemeenskap nodig, maar ons kan nie mense vir enige oortreding in die tronk gooi nie. Gemeenskapslede is welkom om enige regulasie-oortreding soos buitelugadvertensies deur ons klagte-dienssentrum aan te meld.”

Om regulasie-oortredings aan te meld stuur ’n e-pos na www.bylawenforcementcentre@tshwane.gov.za.